Die Man

Nelson Mandela
Nelson Mandela
Part of a sculpture at Port Elizabeth’s Donkin Reserve.
[dropcap]D[/dropcap]it is die lang man, die lang man,
in die groen jersey
almal wou hê hy moes op die water loop
maar hy het eerder met ou tannies
boeretannies, met baie bagasie
en gemoedelike name soos Betsie
en ongemaklike vanne soos Verwoerd
tee gedrink,
hartlik geglimlag,
opreg, met sy oë,
met ’n hart vol onthou,
maar sonder haat.

[dropcap]D[/dropcap]it is die lang man, die lang man,
in die groen jersey
almal wou hê hy moes die brode vermeerder
maar hy het eerder
die letsels van die verlede
met sy twee hande toegemaak
die bokshandskoene weggepak
die gebalde vuis oopgemaak
’n rojale groet
sonder verwyt.

[dropcap]D[/dropcap]it is die lang man, die lang man
in die groen jersey
almal wou hê hy moes uit die water wyn maak
maar hy het hierde land
soos ’n kind, op sy rug gedra, geabba,
die man wat ‘n eiland was,
sonder gesig
met die splinters van Sharpeville,
die briefskerwe se sterwe van Ruth First
die bittere jarelange verlange
na kind, na vrou
weggesluit agter tralies
alles, iewers in sy gees vasgekerf,
weggepak

[dropcap]D[/dropcap]it is die lang man, die lang man
in die groen jersey, nommer ses
wat nou die land, soos ’n rugbybal
vir ons elkeen wil aangee.

[dropcap]D[/dropcap]ie man, wat hier eens net ’n eiland was
het ’n rots, ’n universele baken, geword
Nkosi Sikelel’ iAfrika.

Geskryf deur Clinton V. du Plessis, Cradock digter.